Verdiep jou kennis van Gereformeerde Teologie

Prospektus
Gestig deur die Kuratorium van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) en goedgekeur deur die Algemene Sinode van 2023, sit ons ‘n ryk nalatenskap van Bybelse geleerdheid en getroue diens voort
Ons Missie
Ons missie is om gelowiges toe te rus met ‘n diepgaande begrip van Gereformeerde teologie, gewortel in die onfeilbare Woord van God.
Ons streef daarna om predikante, kerkleiers en lidmate toe te rus om Christus se kerk met kennis, wysheid en toewyding te dien. Gelei deur ons leuse, “Stuur U lig en U waarheid” (Ps.43:3), is ons verbind tot:
- Die handhawing van die gesag van die Skrif
- Die bewaring en bevordering van Gereformeerde teologiese tradisies
- Die bevordering van geestelike groei en praktiese bedieningsvaardighede
- Die gerigtheid tot hedendaagse uitdagings deur ‘n Bybelse wêreldbeskouing
Terwyl ons voortbou op die fondamente wat deur geslagte getroue gelowiges gelê is, kyk die GTA met hoop en doelgerigtheid na die toekoms. Ons nooi jou saam op hierdie reis van geloof, leer en diens aan God se koninkryk.
- Hierdie bladsy verskaf inligting vir individue wat vir een of meer individuele kursusse wil inskryf sonder om hulle tot die volledige program te verbind.
- Onderaan die bladsy sal jy ‘n skakel vind vir diegene wat belangstel om vir die volledige program in te skryf en ‘n graad in teologie te verwerf (na verwys as Bedieningsopleiding).

Wie sal baat by die kursusse?
Predikante
Ouderlinge en Diakens
Skribas
Ouers
Profesionele beroepe
Lidmate & Bybelstudieleiers
Studente Ervaringe





Kursus Hoogtepunte
Gereformeerde Teologie is Bybels, getrou aan die Christelike
belydenis, kerkhistories ingelig en bedieningsgerig. Dit hang saam
met ‘n oortuiging.
Waar die Woord bedien word, word Christus
bely, kry sy kerk gestalte en word gevolg gegee aan die Christelike
bediening.
Op grond van hierdie oortuiging het die Gereformeerde
Teologiese Akademie (GTA) agt kursusse ontwikkel.
- Kursusse word opgeneem
- Kursusse word na-uurs aangebeied
- Aangebeid in Afrikaans en Engels
Nege individuele kursusse vir
2026 eerste Semester om van te kies
Vir gelowiges van die Nuwe Testament is dit soms moeilik om die doel en betekenis van die Ou Testament te verstaan. Hierdie kursus belig die belang en die onlosmaaklike eenheid wat die Ou Testament met die Nuwe Testament deel. Dit ontvou die historiese agtergrond wat nodig is om die Ou Testament te interpreteer. Elke boek van die Ou Testament word behandel met die fokus op:
- wie dit geskryf het,
- wanneer en hoekom dit geskryf is,
- belangrike temas in elke boek,
- hoe die boek opgebou is en
- hoe ons dit vandag kan verstaan en gebruik.
Die kursus behandel ook die belangrike rol wat die Ou Testament in die Christelike geloof speel, veral in die Gereformeerde teologie, belydenisskrifte en kerklike lewe.
Die verhouding tussen die Ou- en Nuwe Testament word noukeurig uitgepluis. Dit is bepalend vir ons verstaan van die Ou Testament. Hierdie kennis beloof om jou eie begrip van God te verbreed en jou geloof te verdiep en te verryk.
Wie sal hierby baat vind?
Alle lidmate en Bybelstudente wat die Bybel binne die konteks van God se Openbaring wil lees en verstaan. Om die onderdele van die Ou testament te verstaan, is ‘n oorsig oor die hele Ou Testament noodsaaklik.
Jy sal leer:
- Hoe die openbaring van God oor eeue progressief ontwikkel het
- Hoe God se wil uitdrukking vind ins konsepte soos die Verbond en simboliese praktyke
- Hoe God die mens gemaak het en wat Hy van die mens verwag.
Aangebied deur: Dr Christiaan Jooste
Hierdie drie (korter) belydenisse word dikwels opgeneem in die liturgie van elke erediens. Hierdie kursus ondersoek elkeen se oorsprong, inhoud en betekenis. Die samehang en fokus van die Twaalf Artikels (Apostoliese Geloofsbelydenis), die Geloofsbelydenis van Nicea en die Geloofsbelydenis van Athanasius word bestudeer.
Dit sluit ‘n vergelykende studie van die drie belydenissse in, met spesiale aandag aan die filioque-kwessie (“en die Seun”) in die Belydenis van Nicea. Hierdie saak is deurslaggewend in die verwoording van die geloof in die Drie-eenheid: die Vader, Seun en Heilige Gees. Hierdie fundamentele kennis van God Drie-enig speel ‘n deurslaggewende rol in die verstaan van God en in die verstaan van al die aspekte van ons geloof wat ons bely en leef.
Wie sal baat vind hierby?
Alle gelowiges wat die Drie Enige God wil verstaan en ‘n betekenisvolle verhouding met God wil handhaaf.
Jy sal leer:
- Wie elkeen van die persone in die Goddelike eenheid is.
- Wat die verhouding tussen die Vader Seun en Heilige Gees is.
- Hoe die aard en wese van God jou persoonlike lewe raak.
Aangebied deur: Ds. Pieter le Roux
Die Bybel kan ‘n baie “moeilike” boek wees om uit te lê te verstaan, tensy jy die basiese konsepte verstaan waarmee die Bybel werk.
Die eksegese werk uiteraard met die taal van die Bybel, daarom is die verstaan van die litterêre tipe en die ontleding van die teksgedeelte om die fokuspunt of Godsopenbaring te identifiseer, baie belangrik
Om God en sy wil te verstaan is onder andere die volgende aspekte belangrik:
- Die kultuurhistoriese agtergrond van die spesifieke gedeelte en die plek wat dit inneem in die openbaring van God
- Die aanspraak van God op die mens in die lig van die sondeval en die uitverkiesing van God
- Die verbond en die koninkryk van God waarbinne Hy sy kerk vestig
- God se geregtigheid en barmhartigheid
- Die uitverkiesing en die aanspraak van God op die mens
Hierdie kursus wil die student toerus om die Bybel op ‘n verantwoordelike manier te lees en uit te lê sodat God uit die Bybel duidelik spreek en die leser nie sy eie idees en begrip in die Bybel “inlees” nie.
Aangebied deur: Dr Malan van Rhijn
Die Gereformeerde kerkregering erken dat Christus die hoof is van sy kerk. Die vraag is egter hoe regeer Christus oor en in sy kerk en wat is die rol van die ampsdraers? Natuurlik ook: Wat is die rol van elke gelowige?
Hierdie kursus bestudeer dan die Bybelse beginsels van kerkwees en kerkregering en hoe dit in die Gereformeerde kerkregering (presbiteriaal) neerslag vind. Verskeie ander stelsels word ook bestudeer, bv die kolegialistiese, die hiërargiese, en die independentistiese stelsels.
Die rol van predikante, ouderlinge en diakens word in besonderheid behandel, asook die verantwoordelikheid van die lidmaat.
Die kursus wil die student toerus om die unieke regering van Christus deur mense in sy kerk te verstaan, en elkeen se verantwoordelikheid weer helder en duidelik te maak.
Dit vind natuurlik neerslag in die verskillende bevestigingsformuliere van die ampte en die belydenisformulier wat elke lidmaat aflê.
Die kerk ontvang van Jesus self die opdrag om te leer (Matt. 28:19). Dit geld kindertjies en volwassenes wat tot geloof kom. Leer beteken egter dat daar ‘n gesonde leersituasie moet ontstaan, dat daar met ‘n bepaalde metodiek gewerk word en dat die katkisant se vermoeë en ouderdom in ag geneem moet word.
Hierdie onderrigbeginsels is nodig vir ouers wat hulle verbondsplig nakom, maar veral ook vir mentors wat katkisasie waarneem, of enige lidmaat wat ‘n oningeligte persoon met die Skrif moet begelei.
Die Bybelse opdrag om te onderrig is daarom nie net kennisoordrag nie, dit is ‘n manier om iemand toe te rus en bekwaam te maak om daardie kennis te toe te pas en te verdedig.
Hierdie kursus wil die kategeet en ouer toerus om liefdevol en effektief kinders, jongmense en volwassenes te begelei in hulle geloofsgroei na geloofsvolwassenheid.
Aangebied deur: Ds. Joken Venter
Die Reformasie het ‘n radikaal nuwe kerklike orde en manier van kerkwees daar gestel soos dit uit die Skrif afgelei word. Dit het die denke van gereformeerdes bepaal met betrekking tot sake soos
- gebed, sang en die bediening van die Woord,
- die doop en onderrig van die verbondsjeug,
- die Nagmaal,
- sorg vir die armes,
- Christelike feesdae,
- Christelike huwelik en begrafnisse,
- kleredrag,
- pastorale sorg vir siekes, sterwendes en gevangenes, ens.
Al hierdie dinge word deur hierdie kursus nagegaan vanuit die Skriftuurlike beginsel dat Christus die hoof is van sy kerk. As basisteks word een van die mees invloedryke gereformeerde kerkordes, naamlik die klassieke en omvattende Kerkorde van die Palts (Heidelberg, 1563), as basisteks gekies. Hierdie kursus stel studente bekend aan die teologie en kerkleer (ekklesiologie) van die Reformasie.
Hierdie studie gee aan jou ‘n goeie begrip van die gereformeerde denke en lewensbeskouing soos dit deur die Skrif geleer en gerig word.
Wie sal hierby baat vind?
Die gereformeerde leer is dikwels ‘n vae begrip en tog is dit ‘n besondere verstaan van die Bybel en volg daaruit ‘n bepaalde lewensstyl. Almal wat hierdie gereformeerde lewensstyl wil verstaan sal hierdie kursus baie geniet.
Jy sal leer:
- Wat die basiese beginsels van Christus se regering behels
- Hoe hierdie beginsels in die kerklike lewe en in die samelewing toegepas en uitgeleef moet word.
- Hoe hierdie beginsels die modern mens aanspreek.
Aangebied deur: Ds. Dirk Meijer
Hierdie kursus dien as ‘n inleiding tot noukeurige teologiese lees. Christene glo dat die Bybel die woord van God is. As sodanig is dit ‘n woord wat in die praktyk gelees, verstaan, verduidelik, toegepas, verkondig en uitgeleef moet word.
Deur die eeue van die Christelike kerk het dit gelei tot verskeie vorme van teologiese literatuur soos preke, gebede, meditasies, geloofsbelydenisse, kommentare, kerkbesluite soos sinodale verrigtinge, wêreldbeskouings en sosiale bewegings, wat alles in die lig van die Skrif self geëvalueer moet word.
Om die Bybel of enige dokument met begrip te lees, moet die teks ontleed kan word om te bepaal wat die hoofkwessie is en wat ondersteunend of op die agtergrond lê. Dit behels verder die vaardigheid om dit wat gelees is te integreer in ‘n teks wat die doel van die gedeelte wat gelees word, duidelik oordra.
As sodanig het hierdie kursus ten doel om studente toe te rus om beter te lees.
Dit sal poog om studente bekend te stel aan:
Die vaardighede wat in hierdie kursus geleer word, sal oorgedra word na ander dissiplines waar noukeurige begrip nodig is, soos om aandagtig na ‘n gemeentelid te luister met die oog op toepaslike Bybelse raad. Die geselekteerde leesstof word noukeurig gekies om ‘n belangrike rol te speel in die bevordering van die geestelike groei van studente.
Wie sal daarby baat vind?
Almal wat die Bybel of dokumente wil lees met die doel om die kern van wat gelees is, vas te vang, en ‘n duidelike konsep te hê van wat die gedeelte wil uitwys.
Jy sal leer:
- Om leespraktyke te ontwikkel wat voordelig sal wees vir ‘n leeftyd van lees.
- Om die Christelike praktyk van logika en retoriek te gebruik om die geldigheid van argumente en outeursbedoeling te bepaal, enblootgestel word aan ‘n verskeidenheid teologiese tekste en denkers.
Christus gee ons die opdrag om sy Evangelie te verkondig aan alle mense. Dit is net moontlik as jy verstaan hoe hierdie “alle mense” dink en wat hulle behoeftes is. Die doel van hierdie kursus is om uiteenlopende wêreldbeskouings te ontleed én om studente toe te rus met begronde kennis van die Christelike wêreldbeskouing.
Die kursus begin met ’n ondersoek na die konsep van ’n wêreldbeskouing. Dit beklemtoon die onmiskenbare teenwoordigheid, betekenis en invloed van wêreldbeskouings op dit wat wat mense dink, glo en leef.
Daar word gekyk na ’n reeks invloedryke wêreldbeskouings, insluitend Judaïsme, Islam, Afrika-wêreldbeskouings, panteïsme, nihilisme, eksistensialisme en postmodernisme.
Daarna verskuif die fokus na die ontwikkeling en verantwoording van die Christelike wêreldbeskouing. Die sleutelelemente van die Christelike belydenis en geloof in God, die mens en die skepping word behandel. Die kursus beoog om studente te leer hoe om hierdie wêreldbeskouing te integreer en in die moderne samelewing uit te leef en te verdedig.
Wie sal baat vind?
Alle kerklike leiers en persone wat daagliks met mense en hulle sieninge en waardes te make het sal hierby baat vind. Dit gee ‘n insig en begrip vir die mense om jou en hoe hulle denke en lewensbeskouing beinvloed en gevorm word. Elke lidmaat wat die Bybelse waarhede wil oordra aan ander moet verstaan hoe daardie waarhede gehoor en beoordeel word deur ander.
Jy sal leer:
- Hoe mense uit verkillende agtergronde, kulture en godsdienste dink en redeneer.
- Hoe dat ‘n universele tydsgees mense se waardes en denke beinvloed
- Hoe die Evangelie elke persoon in sy geestelike bankrotskap aanspreek.
Aangebied deur: Dr Kwena Senmenya
Hierdie kursus dien as ‘n studie van die orde waardeur Christus sy kerk versamel, beskerm en onderhou.
Dit fokus op die fundamentele beginsels van kerkregering soos voorgeskryf in God se Woord, bevestig in die Drie Formuliere van Eenheid, en verwoord in die Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. Elke artikel van die Kerkorde word breedvoerig bestudeer.
Dit dra by tot ‘n ryk begrip van die effek, funksie en betekenis daarvan as ‘n bediening van Christus se regering in die lewe van sy kerk.
(Let wel, hierdie kursus strek oor twee semesters)
Wie sal hierby baat vind?
Predikante, ouderlinge, lidmate, almal wat wil verstaan hoe die kerk georden word en prakties funksioneer om aan Christus gehoorsaam te wees.
Jy sal leer:
- Hoe die kerkorde ontstaan net en hoe dit aan die beginsels van die Bybel uitdrukking gee.
- Om nie net die Kerkorde te ken en te verstaan nie, maar ook om dit verantwoordelik in die kerklike lewe toe te pas.
Aangebied deur: Dr Gerard Meijer
Kursus inligting
Die koste per kursus beloop R2600
Die kursus kan op twee maniere gevolg word:
1 – Indien jy die kursus volg en aan die assesering deelneem, ontvang jy met suksesvolle voltooiing ‘n Sertifikaat van Bevoegdheid. Wees egter voorbereid om heelwat ure vir voorbereiding en leeswerk in te sit.
Al die kursusse is op gevorderde akademiese vlak. Ons maak hierdie kursusse egte toeganklik vir enige iemand wat toegerus wil wees vir dienswerk in ‘n gemeente, of vir selfverryking.
2 – Indien jy egter die kursus wil volg sonder om tyd in te sit vir assesering en ekstra leeswerk, maar steeds jou kennis en insig wil verbreed, kan jy bloot die klasse bywoon, en ontvang jy ‘n Sertifikaat van Bywoning.
Kyk na jou beskikbaarheid vir bywoning.
Eerste semester begin 23 Januarie 2026

Tweede semester begin 20 Julie 2026

BEDIENINGSOPLEIDING
Sertifikaat & Lisensiaatsopleiding in Gereformeerde Teologie
Die Gereformeerde Teologiese Akademie bied ‘n omvattende 5-jaar program in Gereformeerde Teologie aan, wat begin met ‘n Sertifikaat wat noodsaaklike vakke dek, insluitend Ou Testament, Nuwe Testament, Grieks, Hebreeus, en Gereformeerde leer.
Ons GKSA-goedgekeurde kurrikulum is ontwerp vir drie sleutelgroepe: diegene wat tot bedieningsopleiding in die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika toegelaat is; individue wat teologiese studies of ‘n roeping tot die bediening oorweeg en eers die water wil toets; en enige persoon wat ‘n graad in Gereformeerde Teologie wil verwerf, ongeag hul kerkverband of kerklike agtergrond.
Die program integreer met ‘n geakkrediteerde Meestersgraad van Puritan Reformed Theological Seminary (VSA) en kombineer afstandsonderrig met groepsessies in Potchefstroom.